OP SAFARI – MICKEY KUYPER

R130.00

In stock

SKU: 9780639710754 Category: Tag:

Description

Op Safari deur Mickey Kuyper

Elkarien Fourie

 

Op Safari is die storie van die legendariese grootwildjagter Piet Otto wat in die 1970s ’n jagkamp in die Caprivi begin het saam met ’n vennoot en sy vrou Mickey. Sy het die bynaam op universiteit gekry omdat sy so fyn en klein was en dit het vasgesteek. Sy is steeds ’n bondeltjie energie en ’n uithalerkok soos in die tyd toe sy jagters uit alle wêrelddele op hul jagplase moes onthaal sonder stedelike geriewe.

 

Saam met Piet het sy ook sy vyf kinders leer liefkry en hulle het tydens skoolvakansies hul eie avonture beleef waarvan hulle self in die boek vertel. Die Otto’s het hulle dogtertjie van babadae af in die bos grootgemaak en Mickey vertel watter uitdagings en risiko’s daaraan verbonde was, aangesien die bosoorlog aan die gang was en naaste hospitaal ’n vliegtuigrit ver.

 

Na haar man se dood aan kanker in 1993 en later toe die kleinkinders begin kom, het sy al hoe sterker gevoel dat hulle hul Oupa moes leer ken: sy liefde vir die bos en die wildlewe daarin. Hulle moes weet dat goed bestuurde jag ook bewaring beteken. Dit het ’n tydjie geneem om haar stiefkinders, bekend as Gommie, Graat, Susan, Vette en Pietie en die baie mense wat vir en saam met hulle gewerk het, op te rond om bydraes te lewer. Die eindproduk is ’n verhaal vanuit verskillende gesigspunte van senutergende ervarings en interessante vertellings, altyd vol humor en kameraadskap.

 

Daar is staaltjies oor die oorsese besoekers en klante soos die wulpse vrou uit Duitsland wat die jagters se hormone opgejaag het met wat Mickey beskryf as “die Rita-effek”. Natuurverskynsels soos die groot vloed en die sjarme van mak en wilde troeteldiere wat die jagkamplewe opgehelder het word met foto’s vertel.

 

Dan was daar die noue ontkoming toe ’n volgroeide leeu sy stink asem in die onverskrokke Piet, toe 45 jaar oud, se gesig geblaas het. Natuurbewaring, met wie hy nou saamgewerk het, het hom gevra om ’n leeu wat gejag is omdat hy beeste gevang het, op te spoor. Die maanhaar, reeds gewond, het Piet onverwags bespring en met sy hele 180 kg op die grond vasgepen. Piet het instinktief sy geweer vasgeklem en dit het sy lewe gered. Die uiteinde was dat hy die storie vir die koerant kon vertel, nie uit ’n hospitaalbed nie, maar sommer op die aanloopbaan waar sy firma se ligte vliegtuig reeds gewag het om hom terug te neem na ’n besoek aan Pretoria waar hulle ook ’n huis gehad het.

 

Die jagkamp het twee leeutjies geërf wat hul tuiste in ’n dieretuin verloor het. Solank hulle klein was, was hulle ’n aardigheid, maar soos altyd gebeur, het dit nie so gebly toe hulle volwasse geword het nie. ’n Ander heenkome moes gevind word. Die SA Weermagkamp wat as Fort Doppies bekend gestaan het, was hulle naaste bure en het ingestem om die twee mak leeus te huisves. Lesers wat in daardie jare grensdiens gedoen het, sal onthou hoe Teddy en Lisa paniek onder hooggeplaasde besoekers met gepaardgaande pret onder die soldate veroorsaak het.

 

Weens probleme in die Caprivi, onder meer met die aanstuur van jagtrofeë, het die Otto’s ’n einde aan hul onderneming, Caprivi Big Game Safari’s gemaak en hulle toegespits op ’n nuwe jagplaas in die Laeveld.

 

Mickey lig haar boek deurgaans toe met internasionale en Suid-Afrikaanse nuusgebeure wat die verhaal verbreed van net ’n Afrika-jagavontuur na ’n waardevolle tydsdokument.

 

Vir meer oor oor die boek, gaan na die facebookblad Op Safari